Monday, September 26, 2011

Testament is nodig om in saambly- verhouding te erf

In  saambly- verhoudings, heteroseksueel of homoseksueel, is dit van die uiterste belang om 'n korrek opgestelde en geldige testament te hê as jy wil hê die oorlewende party moet van jou kan erf. Ek het in die afgelope maand twee navrae gehad van ouers van kinders wat in 'n saambly- verhouding was en oorlede is sonder om 'n testament na te laat. In die een geval is daar ook 'n baba.
Wat is die oorlewendes (vroue, in dié geval) se regte ten opsigte van haar oorlede lewensmaat se bates? Die antwoord: Sy het geen regte en kan nie erf nie. Kom ons kyk.
As jy sonder 'n testament sterf, word jou sake gehanteer ingevolge die Wet op Intestate Erfopvolging (wet 81 van 1987) en word jou goed verdeel soos in dié wet bepaal. Byvoorbeeld, as jy 'n gade nalaat en geen erfgenaam nie, gaan alles na die gade. As jy nie 'n gade het nie, maar wel 'n erfgenaam nalaat, gaan alles na die erfgenaam. As jy 'n gade en 'n kind nalaat, word alles gelyk verdeel tussen die gade en die kind of kinders (met 'n minimum van R125 000 aan die gade).
Verwarring tree soms in by die definisie van 'n gade en dan word  gegryp na die definisie soos in die Boedelbelastingswet (wet 45 van 1955) wat onder meer bepaal dat 'n gade ook insluit iemand in 'n verhouding wat na die mening van die kommissaris van binnelandse inkomste bedoel was om permanent te wees. Enige bemaking aan 'n gade is aftrekbaar vir die doel van die boedelbelastingrekening. Dit sluit in 'n testamentêre bemaking sowel as 'n intestate (sonder testament) vererwing na 'n gade. Maar om intestaat te kan erf, geld die aanvaarde definisie van gade soos genoem nie. Dan moes daar 'n huwelik wees, of 'n erkende vorm gelykstaande aan 'n huwelik. Om dit anders te stel: As jy ongetroud is, kan jy nie van jou lewensmaat erf as daar nie 'n testament is nie.


Ons howe het al kopgekrap oor die probleem omdat sekere huwelike voorheen nie in ons reg erken is nie. Die kontitusionele hof se uitsprake in die afgelope paar jaar laat egter geen twyfel nie dat daar diskriminasie was en gevolglik word huwelike binne sekere gelowe nou erken, sowel as verbintenisse tussen gay mense. Die sleutelbegrip hier is dat gaan oor 'n huweliksverbintenis, nie soseer die vorm wat dit aanneem nie. Die blote saambly met iemand is nie 'n huweliksverbintenis nie, ongeag die langtermynaard of die emosionele en ondersteunende eienskappe daarvan en ongeag die siening van die kommissaris vir belastingsdoeleindes. Die konstitusionele hof het in die saak Volks No vs Robinson beslis daar rus 'n plig op getroudes om mekaar te onderhou, iets wat nie in saambly- verhoudings geld nie. As ons die uitspraak deurtrek na die intestate erfreg, geld die beginsel dat as jy die kans gebied word om te trou- die diskriminasie hierbo genoem is deur wetgewing verwyder- en jy doen dit nie, kan jy later die voordele wat 'n huwelik beid, opeis nie. In die geval waar die oorledene 'n kind nagelaat het, sal die kind alles erf. Die langslewende in die saambly- verhouding het geen reg op bates of 'n reg op onderhoud vir hom- haarself nie. Dit is ongelukkig die gevolge van die keuse 'n mens uitoefen. 


Deur: Nico Van Gijsen CFP, Sake24, 25 September 2011

No comments:

Post a Comment