Friday, April 1, 2011

Daar is redes vir lewenspolis

Veral as 'n mens jonk is, word lewensversekering dikwels beskou as 'n luukse wat jy nie nodig het nie. Veral omdat die persoon wat die lewenspolis uitneem self nie die voordele daarvan kan ervaar nie. As mense boonop nie enige afhanklikes het nie, het dit vir hulle nog minder sin om lewensversekering uit te neem omdat hulle nie 'n "opbrengs" op hul premies verdien nie. Mense verkies dus dikwels om in die een of ander spaarproduk te belê om in hul toekomstige behoeftes te voorsien omdat hulle kwansuis dan kan sien hoe hul spaargeld groei. "Mense se omstandighede kan egter oornag verander, en dan gaan hulle wel sulke versekering nodig hê," sê mnr. Nico van Gijsen, 'n direkteur van Finlac en skrywer van die reeks boeke Kernfinansies wat deur Pearson uitgegee word. Een van die boeke handel juis oor versekering

Van Gijsen identifiseer 6 redes waarom mense lewensversekering nodig het:

Versorging van geliefdes
Enige iemand wil graag dat sy geliefdes goed versorg is as hy nie meer daar is nie, en dat planne vir die kinders nie skipbreuk ly nie. Selfs al verdien die gade wat agterbly 'n inkomste, is dit dikwels nie genoeg om te sorg dat die gesin dieselfde lewenspeil as vroeër handhaaf nie.
Dit kan selfs meer kos om 'n gesin aan die gang te hou as een van die twee gades nie meer daar is nie omdat iemand anders gehuur word om van die pligte te verrig wat die afgestorwe persoon verrig het.

Sakeredes
Baie meer mense moet deesdae na hulself omsien om 'n bestaan te maak en bedryf kleinsake- ondernemings, allen of saam met 'n vennoot. Veral as 'n onderneming as 'n vennootskap bedryf word, is dit baie belangrik dat die twee vennote lewensversekering op mekaar se lewens uitneem.
Die opbrengs uit so 'n polis kan gebruik word om die afgestorwe vennoot se aandeel uit te koop, en sodoende ook vir die afgestorwene se familie te sorg. So 'n polis kan ook vergoed vir 'n moontlike verlies aan inkomste as die afgestorwene besonderse vaardighede gehad het waarvan die onderneming afhanklik was. In die geval van 'n eenmansaak kan versekering nie net vir die afgestorwe persoon se familie sorg as hy sterf nie, maar ook vir die onderneming se personeel wat dalk sonder heenkome sit.
Nog 'n vorm van sakeversekering is sleutelpersoonversekering. Baie ondernemings het persone in diens wie se kennis noodsaaklik is vir die voortbestaan van die onderneming. As so 'n persoon sterf, kan dit die ondernemer help met kontant om die verlies aan inkomste te vergoed totdat 'n plaasvervanger gevind of opgelei is.

Boedelbeplanning
Dit kan 'n duur storie wees om te sterf. Benewens die koste van die begrafnis, eksekuteursfooie en administratiewe koste kan boedelbeplanning die nagelate persone in 'n geldmors laat beland. As daar belasting op 'n boedel van toepassing is is daar wesenlike gevaar dat daar nie genoeg kontant beskikbaar is om dié belasting en moontlike kapitaalwinsbelasting te betaal nie. Dit kan daartoe lei dat van die bates in die boedel verkoop sal moet word om dié verpligtinge na te kom.
Slim boedelbeplanning maak gewoonlik voorsiening vir lewensversekering om dié verpligtinge af te handel.

Skuld
Die meeste mense gaan die een of ander tyd skuld aan om bates soos 'n huis of motor te koop, maar die skuld gaan ongelukkig nie weg as jy te sterwe kom nie. Die krediteure het 'n eis teen die afgestorwene se boedel en die skuld sal eers uit die boedel betaal moet word voordat afhanklikes iets van die boedel kan ontvang.
Dit het dus sin om 'n lewenspolis uit te neem om die skuld te delg as jy sterf om te keer dat jou naasbestaandes skielik sonder geld sit omdat krediteure alles opgeraap het.

Egskeiding
Sowat die helfte van alle huwelike eindig in 'n egskeiding en dit is 'n risiko waarvoor beplan moet word. Veral wanneer die vrou van onderhoudsbetaling afhanklik is, kan dit lol as die man te sterwe kom. 'n Lewenspolis op die man se lewe moet dus deel van enige egskeidingsooreenkoms wees. En wanneer 'n egpaar volgens die aanwasbedeling getroud is, kan daar 'n probleem wees as die lid van die egpaar wie se aanwas in bates die grootste is, sterf. Die persoon se boedel sal dan 'n verpligting hê teenoor die ander helfte wat betaal moet word voordat enige bemakings gedoen kan word. 'n Lewenspolis is die ideale manier om te verseker dat kontant beskikbaar is.

Aftreekapitaal
Dit gebeur dikwels dat 'n egpaar al hul aftreegeld gebruik en wanneer die een te sterwe kom, is daar feitlik niks vir die agtergeblewene oor nie. Dit kan veral vroue wat gemiddeld sewe jaar langer as mans leef. Die opbrengs van 'n lewenspolis is die ideale manier om die agtergeblewene se geldsake 'n hupstoot te gee.

Artikel geskryf deur David van Rooyen, Sake24- 27 Maart 2011

1 comment:

  1. Kan ons my man se lewenspolis verander ons het nou die geld bitter nodig!

    ReplyDelete